top of page

’n Vreeslike Dag

Writer: Rholien Nel
Rholien Nel
Aug 21, 2025
6 min read

Die Woorde Prinses - Hoofstuk 3



“Daniella, hoekom het jy die borde gebreek?” vra Bernice moedeloos.

Lisa staan regop langs die deur en bekyk vir Daniella wat voor die hoof se lessenaar staan. “Daar is ’n rede vir alles,” dink sy. “Ek wonder net wat hierdie meisie se rede kan wees.”

Daar is vir baie lank stilte.

“Daniella, ek het vir jou ’n vraag gevra; antwoord my asseblief.”


“Ek wil nie.” die meisie kyk na die boekrak.

Skielik kan Lisa haarself nie meer beheer nie en sy staan vorentoe. “Nou wat wil jy dan? Wil jy net vir die res van jou lewe wees soos jy nou is? Wil jy altyd die een wees van wie niemand hou nie? Wil jy altyd so ’n aaklige, bedorwe mens wees?”

“Ek is nie aaklig nie!” Daniella se humeur vlam op en Bernice raak bekommerd dat sy nog iets gaan breek.

“Jy ís aaklig!” Hou Lisa vol, “en jy het baie moeilikheid gemaak, net omdat jy nie by die skool se reëls hou nie. Daar is reëls vir ’n rede!”

“Ek volg nie reëls nie!” antwoord Daniella bitsig en  gluur na Lisa.

“Wel ek gee nie om nie!” val Bernice skielik die argument in die rede. “Daniella, jy gaan werk totdat jy elke sent afbetaal het van daardie borde en van nou af gaan jy betyds wees vir ete. As jy nie teen 7-uur in die eetsaal is nie, kry jy nie kos nie. Klaar. Nou loop nou dadelik.”

Daniella swaai om en loop boos die kantoor uit. Sy klap die deur so hard toe dat die skilderye rittel en hardloop donderend uit na die tuin.

“En Lisa, dit is nie jou werk om met haar te raas nie. Sy was in my kantoor vir ’n rede.” Bernice gaan sit weer stadig.

“Ek is baie jammer,” sê Lisa opreg en sy verstaan nie hoe sy so vinnig beheer van haarself verloor het nie. “Daardie meisie is net heeltemal te vreeslik. En ons kan haar seker nie weer verplaas nie?”

“Nee. Maar ek dink in elk geval ons moet haar maar hier hou; dalk kry ons iets met haar reg. Maar ons moet eers oor Nora praat.”

“Doen sy nog steeds so sleg?” Lisa gaan sit in een van Bernice se leunstoele en kyk bekommerd na die skoolhoof.

“Haar punte is baie laag en as ons nie nou ernstig daarna kyk nie, gaan sy nie hierdie jaar deurkom nie.”

“So wat dink jy moet ek doen? Ek het al met haar gepraat, en sy probeer. Die fout lê beslis nie daarby of sy wil of nie.”

“Nou, dan moet jy haar vir ’n oogtoets vat en dalk...  ja ek weet nie. As sy nie die werk verstaan nie...”

“Miskien moet jy haar ’n rukkie huis toe stuur. Sy het tog goed gedoen vir ’n ruk maar dit is nou hierdie jaar dat die probleme begin het. Tog lyk sy heel gelukkig.” Lisa dink nou baie diep oor haar klein sussie wat baie moeilik is om te verstaan.

“Wel, daar is in elk geval net vier weke van die kwartaal oor, so kom ons kyk. Praat met haar en vra haar of sy vir ’n oogtoets wil gaan. Dalk is dit iets met haar oë.”

Lisa staan met ’n sug op. “Ek twyfel of dit haar oë kan wees, maar ek sal met haar praat.” En met dié is sy by die deur uit.

~~~

In die tuin sit die meisies oral rond. Van hulle doen huiswerk, ander speel en nog ander is besig om die tuin reg te kry nadat die sneeu gesmelt het sodat hulle kan begin blomme plant.

Bernice se skool het die mooiste tuin in die hele St. Martinsbrug en die meisies is baie trots daarop. Nou kry hulle alles reg sodat hulle hierdie jaar ’n beter tuin as ooit tevore kan hê. Hulle spit die grond om, maak die beddings mooi en verskuif die bankies en voëlbakkies.

Op een van die talle, witgeverfde bankies, sit Emma. Sy speel baie saggies haar viool en Duimpie sing saam. Duimpie sit op die gras langs die bankie en spit die grond in een van die beddings met ’n klein grafie om.

Alles is rustig en dit is baie stil omdat almal luister na Emma en Delma se musiek.

“Bly stil Delma!” skree Daniella wat skielik kwaai by die skool se deur uitstorm. Sy stap na een van die bankies, stamp klein Posey Meyer daarvan af en gaan sit dan nors.

Al die meisies in die tuin loer verbaas na Daniella. Hulle het gehoor dat Daniella vanoggend ’n stapel borde omgegooi het en dit is seker daarom dat sy so kwaad is.

 Emma moedig vir Duimpie, wat ophou sing het, aan om weer te begin, “Daniella kan gaan bars. Die ander hou almal daarvan as jy sing.”

Vir ’n rukkie is daar vrede... en toe vererg Daniella haar. Sy spring op en stap boos na die singende Delma. Sy stamp die meisietjie om sodat sy binne-in die bedding val, “Ek het gesê: BLY STIL!”

“En jy is nie die baas nie!” Emma spring op om haar skaam maatjie te verdedig. “Sy kan doen wat sy wil en dis in elk geval ek wat vir haar gesê het om te sing!”

“So wat maak jou dan die baas?” Daniella stamp vir Emma sodat sy ook in die bedding val. Dan draai sy met ’n grinnik om en begin wegstap.

Emma gee haar viool vir Duimpie aan, spring dan op en gryp haar vyand se baadjie. Sy trek vir Daniella om sodat hulle altwee val en dan volg daar ’n hewige gestoei in die modderige bedding.

Maya en ’n paar prefekte kom nader gehardloop en probeer hulle uitmekaar kry terwyl Nora hardloop om vir Lisa te gaan haal en Duimpie eenkant toe skuif met die viool wat sy styf in haar arms vasklou.

Lisa het net uit Bernice se kantoor gekom toe Nora met trane in haar oë by haar aankom. “Lisa, kom gou! Emma en Daniella baklei!”

Lisa is in ‘n oogwink buite en gryp dadelik vir Daniella terwyl Clara Wagner vir Emma in die hande kry. “Waaroor gaan hierdie haglike optrede?” raas die onderwyseres en gluur na altwee die meisies.

Emma het nou skielik besef wat sy gedoen het en die gedagte daaraan oorweldig haar so dat daar ook oor haar wange trane begin loop.

Emma se ligblou hempie is geskeur en haar hare is gekoek en vol modder. Daarby is Danielle se baadjie geskeur, haar een skoen word vermis en sy sukkel om al die modder uit te spoeg wat Emma in haar mond gedruk het. Duimpie staan snikkend eenkant met haar gebuigde brilletjie en haar vriendin se viool waarvan twee snare gebreek is. Al die ander meisies kla oor hulle tuin wat heeltemal verwoes is.

“Wat presies het hier gebeur?” wil Lisa weet terwyl sy haar sakdoek vir Emma aangee en ’n paar ander onderwyseresse sowel as Matrone ook die situasie kom betrag.

Daar is ’n duisend verduidelikings wat almal terselfdertyd uitgeblaker word maar Lisa maak die meisies weer stil en kry dan vir Clara, wat die Gr.8’s se prefek is, om aan haar te verduidelik.

Clara verduidelik alles soos sy dit gesien het, met insette van ’n paar ander prefekte en daarna wag almal in spanning vir Lisa om weer te praat.

“Jy kan jou maar net nie gedra nie nè?” Die jong onderwyseres draai na Daniella, “Jy weet natuurlik dat die skoolreëls sê daar word geen bakleiery geduld nie?”

“Ek gee nie om nie!” skree Daniella en hardloop by die skoolgebou in.

“En Emma, dit vat twee, jy weet?” Lisa kyk kwaai na haar huilende sussie.

“Ek weet,” snik Emma, “en ek moes nie en dit was dom, maar... sy moet ons net uitlos! Sy vat ons goed en sy maak ons seer en... en... ek kon dit nie help nie... ek is baie jammer.”

Maya sit haar arm om haar sussie en die meisie begin gebroke om haar hartjie teen dié veilige toevlug uit te huil.

Al die kwaad verdwyn uit Lisa en skielik voel sy ook hartseer. Sy draai na Duimpie. “Is jou bril heeltemal gebreek?” vra sy sag.

Die klein meisietjie se lip bewe, “Ja, ek sal ’n nuwe een moet kry.”

Lisa het almal getroos en Maya, Emma en Delma na die kantoor gestuur om alles te gaan verduidelik. Die res van die meisies het die tuin begin opruim en Lisa het moedeloos weer na binne gegaan.

In die gang kry sy vir Nathan. “Lisa, ek soek jou oral!” Sy kyk op en toe hy haar gesig sien, sit hy dadelik sy arms om haar. “Wat het gebeur?”


© Rholien Nel 2025

Illustrasies - AI


Bestel die Eboek: Die Woorde Prinses

 

 
 
 

Comments


bottom of page