Emma se Viool
Vyf Prinsesse - Hoofstuk 12
Elke oggend stap Emma en Nora skool toe en in die middag speel Nora met Lara in die sitkamer en Emma oefen haar viool.
Lara is 'n wonderlike hondjie.
“Lara, ek is seker jy sal mal wees oor Mamma.” Gesels Nora met haar maatjie. “Mamma is die wonderlikste mamma en Julia het in die laaste brief gesê dat sy weer heeltemal gesond is. Ek wonder hoekom ons nog nie huis toe kan gaan nie?”
“Ek dink mamma wil hê dat Maya eers gesonder moet word,” sê Emma wat die “wonder” gehoor het, en sy begin om stadig 'n volksliedjie op haar viool te speel.
Nora klap hande toe die laaste note langsaam wegsterf.
Na Emma haar viool mooi gebêre het, gaan sit sy saam met Nora op die mat. Lina en Hanna, die twee lappoppe wat Mamma self gemaak het, word uitgehaal en die dogtertjies begin speel.
Dit was nie lank nie toe kom Ouma by die deur in. “Ag nee, Emma! Nou het ek sowaar te laat hier gekom! Ek wou nog gehoor het hoe jy speel!”

“O! Jammer Ouma. Ek sal gou vir Ouma ‘Die Blumen und Berge’ speel.”
Emma was in die middel van die stuk toe tant Amilia inkom. Sy val met 'n plof op haar stoel neer en nadat sy 'n rukkie na Emma geluister het, sê sy klaend vir Ouma, “My ou suster, hoe jy die hele tyd na die kind se alewige gekraak kan luister, gaan my verstand te bowe! Die kind kan nie eers mooi speel nie! Om die waarheid te sê, sy kan glad nie speel nie!”
Ouma snak na haar asem, Nora se oё rek en Emma hou verslae op speel.
“As die kind speel klink sy soos 'n hoenderhaan waarvan die stembande seergekry het,” gaan die dowe tant Amilia voort. “Soos 'n olifant met maagpyn. Sy klink soos 'n ketel fluitjie as die water kook. Ja jy! Jy klink soos 'n kat waarvan die stert onder een van hierdie motorkar-goeters beland het! Soos 'n trein wat stoom verloor het.”
’n Gespanne stilte volg. Ouma kyk hard na tant Amilia maar dié lyk nie asof sy agterkom dat sy iets verkeerd gesê het nie. Sy sit agtertoe in haar stoel, sug gemaklik en maak haar oё toe.
Emma se kop maal. Is dit dalk regtig hoe sy klink? Het almal altyd maar net gemaak asof sy mooi speel? Klink sy regtig soos 'n ketel? Sonder om regtig te weet en sonder dat sy omgee, draai sy om en glip by die deur uit ‒ sommer blindelings straat af.
Ou oom Martin sit voor sy groot sitkamervenster en tee drink. Watse geel dingetjie is dan daar in die straat? Oom Martin is 'n nuuskierige ou oom wat van die buitelug hou en toe hy hierdie interessante geel dingetjie sien sit hy sy tee neer, trek sy warm jas aan en glip by die deur uit.
Die geel dingetjie is Emma. Sy staan verdwaald in die middel van die straat, in die ysige koue en snik.
“My aarde dogtertjie?” vra oom Martin verbaas, “Hoekom staan jy hier sonder 'n jas of mus? Jy sal mos siek word!”
Emma probeer verduidelik maar begin net weer van voor af huil. Op die ou end tel oom Martin toe maar die dogtertjie op en dra haar huis toe.
Nadat die meisie wat vir oom Martin werk vir Emma heeltemal warm gekry het, vertel die Musiek Prinses huilend haar storie vir die vriendelike oom.
“Ai, my kind… jy moet jou regtig nie só ontstel nie! Onthou daar is iets verkeerd met jou tant Amilia se ore. Sy sal jou viool dus anders as ander mense hoor. Ek ken haar goed. Sy sê presies wat sy dink. Maar wag, hoekom speel jy nie iets vir my nie? Ek het lank gelede 'n dogtertjie gehad wat viool gespeel het, maar nou is sy...” hy word skielik stil en sê dan sag, “Ek mis die musiek. Speel asseblief vir my?”
Iets in die ou oom se oё het gemaak dat Emma baie graag vir hom wil speel en sy tel die viool op, dan trek die strykstok grasieus oor die snare.
Oom Martin sit agtertoe en maak sy oё toe.
“My kind, jy speel werklik mooi!” glimlag oom Martin toe sy klaar is, “Jou musiek het my laat dink: Ek weet wat jy moet doen om jou tannie te help, en ons twee gaan dit saam doen!”
By die huis is Ouma baie kwaad vir haar suster. Na sy mooi vir tant Amilia vertel het wat sy dink, gaan trek sy haar jas aan om vir Emma te gaan soek. Ouma het egter skaars die deur agter haar toegemaak toe kom oom Martin met Emma die straat af.
Ouma is so bly om die dogtertjie te sien dat sy op haar afstorm en haar styf vasgryp. “Emma my arme kind!”
'n Traan loop weer oor die klein gesiggie. “Klink ek regtig soos 'n ketel fluitjie Ouma?”
“Nee skat! Nee, nee! Jy speel regtig pragtig! Tant Amilia kan dit net nie hoor soos ek en Nora nie. Kom, kom ons gaan eet sodat jy in die bed kan klim. Martin wil jy 'n koppie koffie hê?”
Vanmiddag gaan Ouma, Emma en Nora na oom Martin toe.
Oom Martin het die plan gekry om 'n konsert te hou. Die geld wat met die konsert ingesamel word, gaan gebruik word om 'n dingetjie te koop wat vir tant Amilia sal help om beter te hoor.
Nadat die konsert verby is, bedank oom Martin almal wat gekom het. Daar is 'n paar eetgoedjies maar die mense bly nie lank nie.
Soos die mense by die deur uitstap, hoor Emma net: “Dit was só mooi! Nog nooit so iets gehoor nie. Emma dit was pragtig! Drie hoera’s vir Emma! Hiep, hiep hoera! Geluk my kind. Jy is baie talentvol,” en so gaan die komplimente aan en aan.
Uiteindelik is almal weg en Emma, Nora, Ouma en oom Martin gaan sit in die sitkamer.
“My kind ek is baie trots op jou!” sê Ouma. “En jy het die regte ding gedoen om jou tant Amilia te help in plaas daarvan om vir haar kwaad te wees. Die Bybel sê in Romeine 12:17-19:
“Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.
Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.”
Bestel die Eboek: Vyf Prinsesse
© Rholien Nel 2025
Illustrasies - © Rholien Nel 2025



Comments