Die Wonderlikste Plek op Aarde
Alice van Edelweiss - Hoofstuk 1
"Mamma! Hier kom Eric!” raas Anna Hauser in haar gesette ma se rigting. Die dogtertjie staan bo-op haar stoel met haar lepel in die hand en kyk met 'n kameelperdnek by die venster uit.
Tant Ella, 'n mollige, vrolike tannie, gebied haar dogter om soos 'n mens te gaan sit en waggel by die deur uit na waar die sestienjarige Eric haar op sy bokwaentjie sit en inwag.
Die seun suig aan 'n grassie en sy stokhoringoue hoed sit skeef met 'n swart veer wat deur een van die talle gaatjies loer.
“Dankie dat jy haar vir ons sal gaan haal Eric! Ek weet nie hoe ek haar ooit anders hier sou gekry het nie.”
“Dis alles reg tante, hoe lyk sy?” vra Eric haastig. Hoekom is hý altyd die een wat almal op die stasie moet gaan haal? Flits dit deur sy gedagtes.
Tant Ella haal langsaam ’n brief uit haar voorskoot se sak, “Mmmm, O, hier is dit: ‘Sy is lank, baie skraal, tien jaar oud en haar hare lyk soos droë gras.’ Dit is al wat die brief sê.”
“Dankie Tante, ek sal nou maar ry.” Eric tel die leisels van sy waentjie op en ry teen 'n slakkepas die klein dorpie Edelweiss uit.
~~~
Dit was al middag toe hy op die massiewe stasie in St. Martinsburg kom. Die seun kyk onseker rond, laat hy eers 'n koerant soek. Sy ouma het gevra vir een want sy wou sien watse nuus daar oor die oorlog is.
Nou, waar gaan hy tussen al hierdie mense 'n klein dogtertjie kry?
In die verste hoekie op 'n bank, met 'n kleinerige tas op haar skoot, sit 'n dogtertjie met hare wat net soos haar strooi hoed lyk. Hy skep moed, haal sy hoed af en stap nader.
“Guten Tag...” sê hy onseker.
“Guten Tag.” die dogtertjie staan op.

Eric draai sy ou hoed is sy hande om en, “Is jy Alice wat by Tant Ella Hauser in Edelweiss gaan bly?” vra hy vinnig.
“Ja, kom oom my haal?” antwoord sy, duidelik glad nie skaam nie.
Eric bars uit van die lag en vergeet heeltemal dat hy skaam was. “Ja, ek kom jou haal, maar moet my asseblief tog nie oom noem nie! Ek is net Eric. Kom ons ry.”
Hy help haar versigtig op die waentjie en vrolik vra sy wat die Koei se name is.
“Haar naam is Rosie. Wat is jou naam?” vra Eric. Hy haak die leisels van die paal af en gaan sit hard op die verweerde bankie. “Vertel my eers bietjie oor jouself.”
“Aag, ek dink persoonlik nie dat dít baie interessant sal wees nie.” sy kyk op na die lug. “Ek was my hele lewe lank al in 'n kinderhuis. Ek weet glad nie eers wie my ouers was en hoe ek in die kinderhuis gekom het nie. Toe het 'n oom eendag daar aangekom en gesê daar is mense in Edelweiss in Switserland by wie ek kan gaan bly.”
“Ek kom eintlik van Italië af en ek is baie bly om in 'n veilige land soos Switserland te kom bly, veral nou met die oorlog. Gelukkig was die oorlog net twee jaar in Italië maar ek was bang hulle kom weer.”
“Ja Switserland is veilig.” sê Eric wat maar net hier en daar brokkies nuus van die oorlog gehoor het.
“En waar woon jy?” vra sy.
“Kwart-pad teen die berg op saam met my ouma en my broer Felix. Ek pas Edelweiss se bokke op.” Hy wys vir haar een van die berge uit, “Voor daardie berg is Edelweiss.”
Na twee ure se sit op die harde bankie van die wa, kom hulle in die dorpie aan. Eric gaan stop voor tant Ella se huisie wat eintlik heeltemal te klein is vir 'n mollige vrou én agt kinders. Hy het nog nie eers vir Alice afgehelp nie, toe borrel tant Ella en haar kroos al uit die huis.
“OOO! Dan is jy Alice! Ons is só bly om jou te sien!
MAH!” soen die tannie vir Alice en Eric is bly hy is nie die een wat so platgedruk word nie. Maar Alice gee glad nie om nie, sy gooi haar dun armpies om die tannie en hou haar styf vas. Dit is die eerste keer in haar lewe dat iemand haar 'n drukkie gee!
Tant Ella los haar en draai die dogtertjie na haar kinders. “Hierdie is Mila. Sy is die oudste van my klomp. Sandra hier is net uit die skool en sy is net so oud soos Eric. Daar is Hans en Lukas, hulle is 'n tweeling en my regterhande. Lina is so oud soos jy en ek is seker julle gaan goeie maats wees. Daar is – ANNA!!!” tant Ella kyk geskok na die klein figuurtjie agter Mila.
Mila swaai om, kyk 'n paar oomblikke uit die veld geslaan na dit wat veronderstel is om Anna te wees, gryp haar dan aan die hand en trek haar die huis binne.
“Ma, ek het vir Anna gesien!” sê 'n klein seuntjie met 'n modderstreep oor die wang. “Sy het Daniël in die modderdammetjie agter die klip ingestoot en toe trek hy haar ook in.”
“Wel,” tant Ella druk die punt van haar voorskoot in haar mond en vee die vuil streep van die rooi wang af. “Hierdie is Louis. Hy is ses.”
“Nou ja, ek ry nou!” sê Eric skielik hard en almal skrik eintlik want hulle het al van sy teenwoordigheid vergeet.
“Maar my seun jy moet eers iets eet! Ek kan jou nie so na jou Ouma terug stuur nie, nee...”
“Ek moet nou regtig gaan tante. Ek het nog baie om te doen en ons gaan vanaand by oom Thomas-hulle kuier. Auf Wiedersehen julle klomp. Totsiens Tante. Auf Wiedersehen Alice.” hy lig die hoed wat nog sy pa sin was, vat die teuels en daar gaan hy met die kronkelpaadjie die berg op.
“Kom Alice!” roep tant Ella vrolik en dit lyk werklik of sy reeds van Eric vergeet het. Sag vat sy Alice se handjie en waggel met haar by die huis in. “Kom eet eers gou ietsie my kind.”
Na Alice 'n dik sny brood en konfyt geëet het, waggel die tannie haar behoorlik die trappe op, “Jy kan in hierdie kamer slaap.” sê sy na sy een van die deure behoorlik oopgegooi het. “Ek hoop nie jy gee om om die kamer met Lina en Anna te deel nie. Nie? Nou dan is dit goed. Pak maar jou klere in daardie laai, hoor!
Tant Ella klap die deur agter haar toe, “Kom uit die pad julle klomp agies.” roep sy jolig in die gang, “Die kind het 'n bietjie spasie nodig! Nou, ek het 'n appeltjie met Anna te skil!”
In die kamer gaan staan Alice by die tafeltjie voor die venster.
Sy kyk uit oor die ander huisies se dakke – na die groot, oop vlaktes waar net hier en daar 'n klein kolletjie 'n plaashuis verklap.
Sy glimlag. Vandag het sy die eerste keer trein gery, die eerste keer het iemand haar gesoen. Vandag het sy die heel eerste keer in 'n regte, egte huis gestaan. En sy gaan hier woon – maar gaan sy inpas? Dit is so 'n vrolike gesin hierdie, en sy is 'n weeskind wat nie weet wat die woord “familie” beteken nie.
Later toe Alice al haar besittings in die laai gepak het, kom Lina by die deur in.

Dit is 'n rondegesig-dogtertjie met donkerbruin hare wat tot op haar skouers hang. Sy het 'n kuifie en helder bruin oë, “Hallo, ek is Lina. Wil jy hê ek moet jou bietjie in die dorp rondwys?”
“Bitte! Dit lyk só mooi van hier af, ek sal graag wil gaan kyk.” en sy tel haar strooihoed op.
“Nou kom dan.” Nooi Lina, gryp Alice se hand en trippel met haar buitentoe.
Lina beduie opgewonde en vertel haar nuwe maatjie wie in die verskillende huise woon. Sy wys haar die paadjie na die skool toe, en die burgemeester se huis.
Die Hauser-huis is in die hoofstraat en hulle loop daarmee af. Aan die punt van die dorp is 'n houtbordjie wat met die pad af wys en op hom staan “Roosvallei”. Langs die bordjie is 'n reusagtige klip en Alice klouter rats daarteen op.
“Watse bruin ding is daar halfpad teen die berg op?” vra sy vir Lina en wys na 'n redelike groot gebou teen die berg agter Edelweiss.
Lina klim ook haastig die klip op. “Dit is die Groot Huis.” sê sy toe sy langs Alice staan. “Die grootste gebou in en om Edelweiss. Dit is groter as die skool.”
“Hoe het dit daar gekom?” vra Alice baie verbaas. Hoe kry mens al die goeters vir so 'n huis teen so steil berg op?
“Ou oom Thomas het dit gebou net voor hy en sy vrou getroud is.” Lina gly weer teen die klip af. “Of, nie net voor die tyd nie: Hy het tien jaar lank gebou. Hulle het daar al hulle kinders grootgemaak en, soos hulle grootgeword het, het die kinders weggetrek.
Nou woon sy kleinseun se kleinseun daar met sy vrou en vier dogters en daar gaan binne kort nog 'n baba wees.”
“Wie is Eric se ouma? Ek het hom vanoggend oor haar hoor praat.”
“Sy woon halfpad tussen Edelweiss en Die Groot Huis. Eric en Felix se ouers is dood toe hulle baie klein was en van toe af het hulle by tant Sophie gewoon.”
Alice gaan sit op die klip en kyk af na haar nuwe maatjie. “Edelweiss is die wonderlikste plek op aarde!”
Guten Tag ~ Goeie Dag
Auf Wiedersehen ~ Totsiens
Bitte ~ Asseblief
Bestel die Eboek: Alice van Edelweiss
© Rholien Nel 2025
Illustrasies - © Rholien Nel 2025



Comments